top of page

24/7 National Hotline: 0860 163 272 | Email: info@neasa.co.za

May 28, 2025

|

PERSVERKLARING


28 Mei 2025

NEASA:

Transformasiefonds dui op staat se rasobsessie, nie ekonomiese groei nie


Die werkgewersorganisasie NEASA (National Employers’ Association of South Africa) het sterk teenkanting uitgespreek teen die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (dtic) se voorgestelde Transformasiefonds van R100 miljard. NEASA beskryf dit as ’n gevaarlike stap in die rigting van staatsgeforseerde, rasgebaseerde befondsingsbeheer vir die private sektor.


NEASA se volledige kommentaar kan hier gelees word. 


Die konsepdokument, wat op 20 Maart 2025 vir openbare kommentaar gepubliseer is – saam met teenstrydige openbare verklarings deur Minister Parks Tau – het ernstige kommer ontlok oor die bedoeling, implementering en ekonomiese impak van die voorgestelde fonds. NEASA waarsku dat die fonds, eerder as om werklike bemagtiging te bevorder, ras as primêre kriterium vir finansiële ondersteuning instel – sonder om enige ag te slaan op besigheidsmeriete, volhoubaarheid of aanspreeklikheid.


“Dit is nie bemagtiging nie – dit is gedwonge herverdeling op grond van ras,” sê Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van NEASA. “Dit ontneem ondernemings van hul vermoë om in hul eie waardeketting te belê en dwing hulle om ’n staatsfonds te finansier sonder enige deursigtigheid, beheer, of enige waarborg oor die opbrengs of impak van die bydraes.”


Tans kan entiteite hul Ondernemings- en Verskafferontwikkelingsbydraes (ESD-bydraes) aanwend om swart verskaffers, kliënte of ander ondernemings in hul eie waardeketting te ontwikkel. Sekere bepalings in die konsepdokument van die voorgestelde Transformasiefonds neem hierdie buigsaamheid weg en verplig entiteite om by te dra tot ’n gesentraliseerde staatsfonds waarby hulle geen invloed het oor wie voordeel trek nie.


“In hierdie model word daar van ondernemings verwag om hulpbronne te skenk sonder om te weet wie die begunstigdes is, hoe die fondse aangewend gaan word, of te weet of enige ekonomiese waarde geskep word,” voeg Papenfus by. “Hierdie proses verwring transformasie tot niks meer as ’n transaksie om B-BBEE-punte te koop nie – en ondermyn die gees van werklike bemagtiging ten volle.”


NEASA se kommentaar beklemtoon verder die gebrek aan kwalifiserende kriteria vir begunstigdes, buiten hul ras. Die konsepdokument verwys nie na sakevaardighede, kwalifikasies of lewensvatbaarheid nie, wat dit vir bydraers onmoontlik maak om risiko, opbrengs of langtermynwaarde te evalueer. Verontrustend is dat die fonds beoog om fondse as skenkings toe te ken, in teenstelling met gestruktureerde lenings, wat selfs in bestaande – maar ook mislukte – bemagtigingsprogramme gebruik word.


Die gebruik van die term “riskante landelike en township-ondernemings” in die dokument – sonder verdere verduideliking – beklemtoon die onsekerheid en onbestendigheid van die voorgestelde model. As die meer as 24 bestaande staatsbefondsde programme vir swart besighede nie resultate lewer nie, vra NEASA waarom ’n meer riskante, minder deursigtige fonds wel sal slaag.


“Suid-Afrika het nie nóg ’n mislukte, staatsbeheerde fonds nodig nie. Wat ons nodig het, is beleid wat groei aanmoedig, regulatoriese struikelblokke verwyder en ware entrepreneurskap bevorder. Ekonomiese sukses kan nooit op grond van ras bepaal word nie, maar moet op innovasie, volhoubaarheid en vryemarkbeginsels berus,” beklemtoon Papenfus.


Die voorgestelde Transformasiefonds dreig om staatsinvloed op die private sektor verder te verstewig, nepotisme te bevorder en beleggersvertroue nog verder te verswak – op ’n tydstip waar die ekonomie reeds op die rand van ineenstorting staan. Met korrupsie en regulatoriese wanfunksionering wat na raming die land R1.5 triljoen tussen 2014 en 2019 gekos het, sal die sentralisering van nóg R100 miljard in ’n ondeursigtige en ideologies-gedrewe fonds ekonomies roekeloos wees.


“NEASA is ‘n voorstaander van ’n mededingende vryemarkekonomie waar ondernemings deur innovasie, doeltreffendheid en individuele meriete floreer – nie deur staatsgeforseerde herverdeling nie,” sluit Papenfus af.


Verklaring uitgereik deur

National Employers’ Association of South Africa (NEASA)


MEDIA CONTACT

Izaan Ludick

069 427 1720

Media Liaison (NEASA)


media@neasa.co.za 

POPULAR TOPICS

bottom of page