top of page

24/7 National Hotline: 0860 163 272 | Email: info@neasa.co.za

Jun 26, 2025

|

PERSVERKLARING


26 Junie 2025


GESAMENTLIKE MEDIAVERKLARING


DEUR LEIERS VAN 'N AFRIKANER-AFVAARDIGING


NA 'N VERGADERING MET SENIOR WITHUIS-AMPTENARE


OP 25 JUNIE 2025


‘n Senior afvaardiging van Afrikanerleiers het vandag in Washington DC ‘n konstruktiewe en hoëvlak-vergadering gehou met senior amptenare van die Withuis, insluitend verteenwoordigers van die Kantoor van die Vise-president, die Nasionale Veiligheidsraad en die Binnelandse Veiligheidsraad.


Tydens die vergadering het die VSA-amptenare die Administrasie se amptelike standpunt oor die nodige voorwaardes vir die normalisering van bilaterale betrekkinge tussen die Verenigde State en Suid-Afrika meegedeel. Hierdie voorwaardes is soos volg:


  1. Die klassifikasie van plaasaanvalle as 'n prioriteitsmisdaad. Die Withuis-amptenare het daarop gewys dat plaasaanvalle tans nie met dieselfde dringendheid en hulpbronne as renosterstropery en kontant-in-transitorooftogte aangespreek word nie. Elke plaasaanval moet deur die Valke ondersoek word;

  2. ‘n Duidelike en ondubbelsinnige openbare veroordeling deur die ANC van ”Kill the farmer, kill the Boer” of dit nou in ‘n liedjie of enige ander konteks gebruik word;

  3. Geen grondonteiening sonder billike markvergoeding nie. Onteiening moet slegs voortgaan nadat alle regsprosesse volledig uitgeput is; en

  4. Vrystelling van VSA-entiteite van alle vereistes vir Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE). Enige rasgebaseerde wetgewing wat 'n nie-tariefhandelsversperring kan vorm, moet nie op VSA-entiteite van toepassing wees nie.


Die Afrikaner-afvaardiging - bestaande uit die leier van die Vryheidsfront Plus, Dr. Corné Mulder, die Uitvoerende Voorsitter van die Suider-Afrikaanse Landbou-inisiatief (SAAI), Dr. Theo de Jager, en die Hoof Uitvoerende Beampte van die werkgewersorganisasie, National Employers’ Association of South Africa (NEASA), Mnr. Gerhard Papenfus - is daartoe verbind om die normalisering van betrekkinge tussen Suid-Afrika en die Verenigde State te ondersteun. Die afvaardiging het nou ‘n duidelike begrip van die Amerikaanse administrasie se verwagtinge.

Die amptenare van die Withuis het kommer uitgespreek dat hierdie voorwaardes, ten spyte daarvan dat hulle verskeie kere aan die Suid-Afrikaanse regering gekommunikeer is, nie voldoende aangespreek is nie. Hulle het versoek dat die Afrikaner-afvaardiging hierdie voorwaardes duidelik aan die Suid-Afrikaanse publiek oordra.

Die afvaardiging het onderneem om hierdie voorwaardes aan beide die Suid-Afrikaanse regering en die breër publiek oor te dra in belang van deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die herstel van sterk bilaterale bande.


GESAMENTLIK UITGEREIK DEUR:

Dr. Corné Mulder (VF Plus)

Dr. Theo de Jager (SAAI)

Mnr. Gerhard Papenfus (NEASA)

Vir navrae, kontak Pieter de Necker by ‪+2779 661 3996

POPULAR TOPICS

bottom of page