24/7 National Hotline: 0860 163 272 | Email: info@neasa.co.za

Meningstuk:
MNR DIE PRESIDENT, GOEIE BEDOELINGS ALLEEN KAN HIERDIE NIE REGSTEL NIE – DIT GAAN MEER VERG AS ESKOM
4 Februarie 2020
Die President se boodskap op Maandag, 20 Januarie 2020, dat die ANC verbind is tot die beëindiging van die praktyk om ongekwalifiseerde individue, by wyse van politieke begunstiging, in gesagsposisies te ontplooi ten einde ‘n bekwame staatsadministrasie te skep, kan ‘n potensiële ommekeer vir Suid-Afrika beteken. Of kan dit?
Hierdie aankondiging is in sterk teenstelling met die leerstellings van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) en moes derhalwe voorblad-blootstelling ontvang het. Die gebrek aan sodanige blootstelling spreek boekdele.
Ingevolge die NDR, eien die ANC homself die reg toe om die ‘drywers’ van ‘transformasie’ te skool, te organiseer en te mobiliseer ten einde in hulle ‘omvangryke eiebelang’ op te tree. ‘Transformasie’ verwys na die ANC se doelwit om ‘n gemeenskap na die beeld van die ANC te skep.
Die agteruitgang van Suid-Afrika, in bykans alle opsigte, is ‘n direkte gevolg van die ‘suksesvolle’ implementering van die vernietigende NDR-beleid. ‘n Sukkelende Suid-Afrika is onteenseglike bewys dat die ANC inderdaad sy NDR doelwitte bereik het.
Elke staatsgedrewe instelling is op alle vlakke geïnfiltreer deur oneffektiewe amptenare met selfverrykende oogmerke; kaders wat in die leer van ‘omvangryke eiebelang’ gegradueer het, vanwaar hulle die ‘hefbome van mag’ beheer. Daar is natuurlik uitsonderings – helde wat vanweë hulle etiek en doeltreffendheid die NDR se vryval na die sosio-ekonomiese bodem frustreer.
Die huidige onbekwame regering, en per definisie die ramp van staatskaping, is die resultaat van die sistematiese implementering van die ANC se meesterplan. Dit is nie asof die land as gevolg van blote nalatigheid deur onkruid geïnfiltreer is nie; die saad is met voorbedagte rade gekies – ‘n nuutgeskepte NDR kultivar bestaande uit selfdienende, swak toegeruste ANC lojaliste en staatskapers. Beide die grond en die saad is sorgvuldig deur die ANC tot wasdom ‘versorg’.
Wat jy saai, sal jy maai; dit is ‘n universiële beginsel; en hierdie transformasiemodel het die staatsadministrasie lamgelê. Noudat die oes wasdom bereik, besef die ANC dat die opbrengs nie net teleurstellend is nie, maar totaal en al waardeloos. Ongelukkig is hierdie die nuwe werklikheid, ‘n nasionale krisis wat slegs reggestel kan word deur ‘n nuwe seisoen te skep, die grond intensief te bewerk en nuwe radikale beleide te implementeer, gepaardgaande met uitsonderlike en beslissende leierskap. As gevolg van wye, diepgewortelde eiebelang, mag hierdie taak selfs meer uitdagend wees as die ommekeer van Eskom.
Inaggenome die bostaande kan die ANC seersekerlik nie geskok wees oor die feit dat hierdie aankondiging met groot agterdog bejeën word nie. Dit is die gevolg van die feit dat byvoorbeeld Onteiening sonder Vergoeding, Nasionale Gesondheidsversekering en die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Sport en Ontspanning, die land verder oor die afgrond dryf.
Selfs diegene wie se eiebelang potensieel bedreig word deur hierdie nuwe ontwikkeling is nie hieroor bekommerd nie. Die rede hiervoor is dat swak, huiwerige en oor-akkommoderende leierskap nie die huidige koers sal verander nie.
Hierdie meningstuk is geskryf deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employer’s Association of South Africa (NEASA). Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Vir verdere inligting:
NEASA Media Departement
Marietha Thirion