24/7 National Hotline: 0860 163 272 | Email: info@neasa.co.za

WERKGEWERS WORD GEMAAN… om nie sake-beginsels te midde van transformasie-druk te laat vaar nie.
Geagte werkgewer
NEASA adviseer werkgewers om nie die beginsel van indiensneming op meriete te midde van die regering se transformasie-druk te laat vaar nie.
Ondanks die onlangse uitspraak deur die Hooggeregshof, waarin NEASA en Sakeliga se aansoek om ’n interdik teen die nuwe gelyke-indiensnemingkwotas van die hand gewys is, hou NEASA en Sakeliga vol, as die kampvegters vir werkgewers se regte, dat hulle die voorgestelde raskwotas van loopgraaf tot loopgraaf sal beveg.
Terwyl NEASA en Sakeliga die gebrekkige uitspraak op appèl neem en die grondwetlikheid van die raskwotas verder beveg, moet werkgewers, vanaf 1 September, hulle planne vir gelyke indiensneming vir die volgende vyf jaar opstel en die nodige verslae by die Departement van Arbeid en Indiensneming indien.
Indien ’n werkgewer poog om aan die regering se verpligte vyf-jaar rasteikens te voldoen, en hul maatskappykultuur en die beginsel van aanstelling op meriete in die opstel van hierdie planne opoffer, sal die staat so ’n werkgewer daaraan gebonde hou om daardie onmoontlike en diskriminerende rasteikens te bereik.
Voldoening aan die raskwotas is onmoontlik en sal enige maatskappy wat daaraan probeer voldoen se ondergang bewerkstellig. Die verwoesting wat hierdie transformasiebeleid veroorsaak, word perfek deur die ineenstorting van alle Suid-Afrikaanse staatsinstellings geïllustreer. Die staatsdiens, munisipaliteite en alle staatsbeheerde ondernemings soos ESKOM, Transnet, die Suid-Afrikaanse Poskantoor en ander, het almal ras- en geslagstransformasie bo meriete-aanstellings geprioritiseer.
Geen besigheid kan op ’n ras- of geslagtelkaart floreer, of hoegenaamd funksioneer nie. Ras- en geslagkwotas hoort eenvoudig glad nie in enige aanstellingsproses nie. Die risiko van indiensneming lê altyd by die werkgewer. Die finale indiensnemingsbesluit lê daarom altyd by die werkgewer en nié die regering nie.
Besighede wat hul toekoms wil beskerm, sal nie hul maatskappykultuur en operasionele effektiwiteit opoffer om aan die staat se magsvergrype en transformasie-ideale te voldoen nie.
Dit is van kardinale belang dat die eienaars, uitvoerende hoofde en direkteure van maatskappye die erns van hierdie saak ter harte neem en direk en persoonlik by die beplanning rondom gelyke indiensneming betrokke raak. Dit kan nie aan ’n middelvlak bestuurder of menslike hulpbronbestuurder oorgelaat word nie: hierdie besluit kan ’n besigheid maak of breek.
NEASA sal nie aan die staat se raskwotas voldoen nie. Die opstel en implementering van NEASA se gelyke-indiensnemingsplan sal soos in die verlede geskied: met realistiese teikens, saam met die motiverings waarom daar nie aan die staat se teikens voldoen kan word nie. NEASA sal altyd werknemers op grond van meriete en maatskappykultuur aanstel.
Diskriminasie op grond van ras en geslag, sal nóóit deur NEASA geduld word nie en die teenstand teen staatsinmenging in die privaatsektor sal altyd deel vorm van NEASA se missie.
Vir meer inligting
NEASA Mediadepartement

NEASA ... the only labour law specialist an employer will ever need.

%20(4).png)