24/7 National Hotline: 0860 163 272 | Email: info@neasa.co.za

NASIONALE MINIMUMLOON: uitnodiging vir openbare kommentaar … mors van tyd? – deur Luthando Nondaba
Geagte werkgewer
Ten spyte daarvan dat ongeveer 70% van belanghebbende partye, insluitend vakbonde, die afgelope jaar volgens die Nasionale Minimumloonkommissie se eie verslag, teen verhogings van die Nasionale Minimumloon (NML) gekant was, het die Kommissie nietemin volgehou om inkrementele aanpassings aan die NML aan te beveel.
Hierdie jaar het die Kommissie weer eens ‘n kennisgewing uitgereik waarin alle belanghebbende partye genooi word om skriftelike vertoë te rig rakende 'n ‘ondersoek’ na moontlike aanpassings aan die NML.
NEASA sien nie die nut daarin om vertoë te rig of deel te neem aan wat klaarblyklik ‘n oppervlakkige jaarlikse prosedurele voldoeningsoefening geword het wat in werklikheid enige openbare insette ignoreer nie. NEASA sal egter die volgende algemene opmerkings met betrekking tot die NML maak:
Tans, ingevolge wetgewing, mag geen persoon, ongeag hoe desperaat, teen ‘n koers laer as die NML aangestel word nie. Dit laat miljoene potensiële werknemers behoeftig en afhanklik van karige staatstoelaes in Suid-Afrika. 'n Werk – selfs 'n laagbetaalde werk – is beter as geen werk nie!
'n Voorgeskrewe minimumloon verlig nie die sosio-ekonomiese lot van Suid-Afrikaners nie. In teenstelling hiermee, soos oor die jare herhaaldelik aan die Kommissie voorgelê en gedemonstreer is, bereik dit die teenoorgestelde.
Die kern van die probleem rakende ‘n voorgeskrewe minimumloon, is dat hoe meer 'n werkgewer wetlik verplig is om 'n enkele werknemer te betaal, hoe minder werknemers kan die werkgewer in totaal in diens neem – wat weer die las op die mense wat genoegsaambetaalde werk kan vind, verhoog.
Die mark moet die loon dikteer wat 'n werkgewer bereid en in staat is om aan sy werknemers te betaal en moet nie kunsmatig buite vryemarkmagte deur die regering bepaal word nie.
Die regering ignoreer die eenvoudige logika dat werkgewers, sonder uitsondering, slegs lone betaal op grond van bekostigbaarheid en wat hulle bereid is om te betaal, en dat werknemers binne 'n markgedrewe bedeling betaal word volgens hul vaardighede en produktiwiteit, wat weer werkgewers aanspoor om mee te ding om waardevolle werknemers. Indien lone deur die bogenoemde beginsels organies vasgestel sou word, sal dit lei tot 'n verbeterde loonkoers, selfs hoër as wat die verpligte NML voorskryf, sowel as verhoogde indiensneming.
Die regering se inmenging in die vrye mark lei tot loonskale wat nie in ooreenstemming is met ekonomiese realiteite nie, verdere werkloosheid, die vermindering van werksure of blote verontagsaming deur werkgewers.
Met inagneming van bogenoemde algemene kommentaar, kan ons reeds die gevolge van markvyandige beleide soos die NML sien, met die Suid-Afrikaanse werkloosheidsyfer wat jaar-tot-jaar bestendig styg, en in die tweede kwartaal van 2025 tot 33.2% gestyg het, met die uitgebreide werkloosheidsyfer van 42.9% (wat individue insluit wat aktief werk soek, sowel as diegene wat beskikbaar is vir werk, maar moed opgegee het om werk te soek) en 'n ongekende jeugwerkloosheidsyfer van 62.4%!
Die 2025 Domestic Worker Pay and Working Conditions Report het onlangs onthul dat byna 400 000 werksgeleenthede vir huishoudelike werkers die afgelope vyf jaar verlore gegaan het. Alhoewel emigrasie as een van die redes vir die werkverliese aangehaal is, toon die verslag ook dat die werkverliese die gevolg was van werkgewers wat nie meer hul huishoudelike werkers kon bekostig nie.
Gevolglik, wanneer die minimumloon verhoog word, het werkgewers dikwels reageer deur huishoudelike werkers af te lê. Die verslag het verder onthul dat pogings om die betaling van huishoudelike werkers te verhoog, gelei het tot 'n afname in aanstellings.
NEASA bly vasberade in sy teenkanting teen 'n wetlik verpligte NML en daarom is enige aanpassing daaraan irrelevant.
In stede daarvan om te fokus op ekonomiese stimulasie deur middel van beleide wat bevorderlik is vir ekonomiese en sakegroei, deur wette te implementeer wat werk aanmoedig en wat burgers toelaat om te werk, 'n bestaan te maak en produktiewe lede van die samelewing te word, is die regering vasbeslote om met sy vernietigende beleide voort te gaan en burgers en hul belange te ignoreer. Dit is duidelik dat die behoud van sy kiesersbasis en die versekering dat burgers afhanklik bly van die staat, die staat se sosialistiese modus operandi is.
Die uitnodiging om kommentaar te lewer oor hierdie 'ondersoek' is dus 'n belediging vir belanghebbende partye, veral in ag genome dat dit eenvoudig deur die Kommissie geïgnoreer word.
Luthando Nondaba is ’n Beleidsadviseur by die Nasionale Werkgewersorganisasie van Suid-Afrika.
For more information
NEASA Media Department