privileged and challenged to be south african.

we're all in this together.

Archives

20172016201520142013201220112010200920082007200620052004200320022001

Só word álmal armer

Posted in: All News
Comments: 0
Date Added: 2016/03/08


Gerhard Papenfus’ recent opinion piece titled “I’m White,Whats My role”? continues to receive media attention. It was published in Beeld on 8 March 2016, and also online on Netwerk 24. Read the article below as it appeared in Beeld and Netwerk 24 (in Afrikaans).


Wat moet sy rol as wit mens in die vorming van die land se toekoms wees, vra Gerhard Papenfus.
 
Ek is “wit”. Ek het geen mandaat om hierdie te skryf nie; ek het geen politieke affiliasie nie. Ek is nie onbevooroordeeld nie. ’n Leeftyd is te kort om die volledige prentjie te sien.
 
Deur hierdie te skryf, loop ek die risiko om met allerlei stereotipes gebrandmerk te word: “rassisties”, “onsensitief”, “naïef”, “antirevolusionêr” en “antiprogressief”. Ek skryf uit my beperkte perspektief en vanaf die plek in die wêreld waar ek myself bevind.
 
EK IS ’N SUID-AFRIKANER IN MURG EN BEEN.
 
Ek is ’n Suid-Afrikaner in murg en been. Ek is lief vir hierdie land. In ’n beperkte mate verstaan ek Suid-Afrika se uitdagings en kompleksiteit en wil ’n rol speel in die daarstel van ’n toekoms vir alle Suid-Afrikaners.
 
Ek verstaan dat ek nie ’n toekoms vir myself kan opeis nie, tensy ek nie daarna streef om die ruimte vir alle ander Suid-Afrikaners te skep om dieselfde te doen nie. Ek verstaan egter ook dat dit elke individu se verantwoordelikheid is om vir sy/haar eie welsyn verantwoordelikheid te aanvaar.
 
Ek moet erken dat ek nie ten volle die skade wat apartheid aan Suid-Afrikaners aangerig het, verstaan nie. Ek sien die gedrag, die resultaat van hierdie bose ideologie, wat oor geslagte ingeëts is. Ek sien dit nie net nie, maar maak myself ook skuldig daaraan.
 
EK IS AS ’N LID VAN DIE “BEVOORREGTE” KLAS GEBORE.

Ek kan my nie ten volle in die vernedering, frustrasie en woede wat dit veroorsaak het, inleef nie. My mensbeskouing word steeds beïnvloed deur beelde wat diep gewortel is.
 
Ek is as ’n lid van die “bevoorregte” klas gebore – asof die feit dat ek “wit” is ’n waarborg is vir die volledige pakket wat met die term “bevoorreg” vereenselwig word.
 
Ek kom tot die gevolgtrekking dat die materiële voordele wat apartheid wou verseker, die dominante doelwit is waarna nou gestreef word. Apartheid was ’n mislukking. Die materiële rykdom en valse sekuriteit wat dit wou waarborg, was teleurstellend. Die resultaat is bitter.
 
Die formele beëindiging daarvan 21 jaar gelede was ’n verligting. Diegene wat na dieselfde materiële voordele streef waarna apartheid gestreef het, sal dieselfde teleurstelling ervaar.
 
Ek dra hierdie albatros van “bevoorregting” sonder dat ek my saak kon stel. Ek het nie ’n “waarheids-en-versoeningskommissie” gehad nie. Die mate van voordeel wat ek geniet het, is nooit getoets nie.
 
Ek sien wat rondom my gebeur. Ek sien ongelooflike groei in individuele welvaart ten spyte van ’n krimpende ekonomie. Ek sien ook verarming, die groeiende gaping tussen ryk en arm, werkloosheid, maatskaplike onrus en verswakkende dienslewering wat die armes die meeste raak. Ek sien die verwaarlosing van sake wat langdurige bemagtiging tot gevolg kan hê en ’n fokus op aspekte wat nie blywende voordeel daarstel nie, maar wel leë, korttermyn- politieke entoesiasme.
 
Ek merk op dat ’n rassistiese opmerking deur ’n onbekende mens die voorblaaie van koerante haal terwyl die moord op ’n boer nie oor berig word nie. Nieteenstaande alles, sien ek soveel dinge wat nog werk, soveel wonderlike goedertrou tussen mense. Ek hoop steeds.
 
Dit word van my verwag om ’n groter bydrae te maak; ek word meegedeel dat my weerstand teen verandering die rede vir groeiende spanning is. Ek is skepties, selfs geïrriteerd, oor oproepe vir versnelde transformasie.
 
Ek hoop dat dit ’n oproep tot beter opvoeding, verbeterde vaardighede, verbeterde werketiek, veranderde houdings, meer gemeenskaplike begrip en die daarstelling van ’n bemagtigende omgewing behels.
 
Wat dit ongelukkig beteken, is herverspreiding oor ’n wye reeks gebiede, insluitend die aandele in my onderneming en my betrekking. As transformasie maar so eenvoudig was dat deur hierdie dinge weg te gee, dit sou lei tot ’n blywende oplossing, sou dit aanvaarbaar wees, maar alle aanduidings is dat hierdie beleid net die teenoorgestelde tot gevolg het.
 
IS DIT SO EENVOUDIG?

Ek verkeer onder die indruk dat wanneer oop debat oor hierdie aangeleenthede versoek word, ek as ’n oortreder gebrandmerk word en moet terugsit en luister terwyl die slagoffer my historiese sondes aan my verduidelik.
 
Is dit so eenvoudig? Word dit van my verwag om myself bloot te stel aan historiese reoriëntasie en in te stem tot permanente ekonomiese versmoring? Nie net vir myself nie, maar ook vir generasies ná my.
 
Besef diegene wat my as ’n oortreder beskou, dat ek ook ’n slagoffer kon gewees het; besef die slagoffers van vandag dat hulle hulself omskep in die oortreders van môre – die mishandelde word die mishandelaar. En só word hierdie onaanvaarbare siklus van ewigdurende blamering en vermyding van verantwoordelikheid voortgesit.
 
Daar is elemente van oortreders en slagoffers in ons almal. Geeneen van ons is inherent boosaardig gebore nie. Ons almal moet introspeksie doen; as ons nie doen nie, sal ons stagneer en onsself uiteindelik aan dinge skuldig maak waarteen ons aanvanklik geprotesteer het: “Verwyder eers die balk uit jou eie oog en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broer te verwyder”.
 
AS EEN RASSEGROEP UITRANGEER WORD, SAL DIE HELE LIGGAAM LY, SELFS STERF.

Die huidige stelsel van swart bemagtiging is so onaanvaarbaar en wanfunksioneel soos sy voorganger, apartheid. As jy jouself in die verkeerde velkleur bevind, word jy aan ’n institusionele raamwerk onderwerp wat ten doel het om jou permanent uit die hoofstroom-ekonomie te hou; die doelwit van die sogenaamde “naatlose transisie”. As jy jou eie onderneming begin om ’n bestaan te maak, sal jy vind dat baie deure vir jou toegaan, tensy jy bereid is om die minderheidsaandeelhouer in jou eie onderneming te wees. Dis soortgelyk aan ekonomiese selfmoord. Hierdie model is ’n ­teelaarde vir rassisme wat hierdie nasie uiteindelik in vyandigheid en armoede sal dompel.
 
Sogenaamde “gelyke indiensneming” en “swart ekonomiese bemagtiging” het ’n vorm van straf vir wit mense geword. Dit het niks te doen met breë bemagtiging nie. As dit die doelwit is, dan is dit ’n volslae mislukking. Dit het ’n paar uitgesoekte swart mense verryk, maar miljoene swart mense en baie wit mense verarm.
 
Dis die primêre oorsaak van rassespanning, ’n ekonomiese kanker, ’n oorsaak vir swak sakevertroue, die rede vir die mislukking van staats- en semistaatsinstellings – die onderwerp wat almal vermy uit vrees vir viktimisasie.
 
Elke rassegroep is deel van die Suid-Afrikaanse “liggaam”. As een rassegroep uitrangeer word, sal die hele liggaam ly, selfs sterf. Dit geld egter ook vir elke individu in Suid-Afrika.
 
Dus, in die huidige “debat” kan ek nie op die kantlyn staan nie. Ek is nie ’n tweedeklas-landsburger nie; ek is hier om te bly. My “sondes” mag my nie verhinder om ’n rol te speel in die vorming van die toekoms nie. Om myself weens vrees, skuldgevoel of selfbejammering stil-stil van die debat te onttrek, sal vir niemand van enige waarde wees nie, allermins diegene wat my uit die debat wil stoot.
 
’n Laaste gedagte gerig aan die historiese “oortreders” wat hulself bejammer omdat hul nou die “slagoffers” geword het; asook die historiese “slagoffers” wat geleidelik die “oortreders” word en diegene wat nog altyd “slagoffers” was:
Ware, blywende, vervullende rykdom was nie te vinde binne die konteks van apartheid nie; dis ook nie te vinde binne die konteks van bemagtigingsbeleide wat daarop gerig is om rykdom in leeggemynde skagte te vind nie.



Login / Become a Member to comment